
Die afgelope tyd was daar heelwat omstredenheid oor die aanwysing van kandidate vir die komende munisipale verkiesing. In die Tshwane Metroraad het die DA onder kritiek deurgeloop nadat kandidate wat laag op die proporsionele lys beland het die party onder meer daarvan beskuldig het dat dit deur vrymesselaars beheer word. `n Lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, Gugile Nkwinti, het Maandag aan verslaggewers gesê dat die ANC die kiesers sal laat besluit wie hulle kandidate moet wees. Nkwinti sê die kandidate moet na aan die kiesers beweeg en dat daar openbare vergaderings sal wees om burgemeesterskandidate aan te wys.