Dr Pieter Mulder is die leier van die Vryheidsfront Plus.
Vraag 1: Wat is die VF Plus se verwagting vir die komende verkiesing?
Die VF Plus stel hierdie verkiesing kandidate in al nege provinsies en in 3000 wyke. Dit is amper dubbel soveel wyke as met die vorige verkiesing wat dui op groei en entoesiasme van die grondvlak af. Die VF plus het die laaste paar jaar ʼn 20% groei in ledetal gehad soos kiesers ontnugter is met ander partye se antwoorde vir die huidige politieke en ekonomiese krisisse in die land. Daarom verwag ons om beter as in die verlede te doen.
Vraag 2: Koalisievorming is soms nodig waar nie een party ʼn volstrekte meerderheid verkry het nie. Is daar enige partye met wie die VF Plus nie bereid is om in ʼn koalisie te gaan nie?
Waar die VF Plus deel van ʼn koalisie word na die verkiesing, is die riglyn altyd of die party sy kiesers se belange daardeur in die betrokke munisipaliteit sal kan bevorder of nie.
Dit is in belang van Suid-Afrika dat die ANC verswak en nie met ʼn koalisie versterk moet word nie. Daarom het die VF Plus in 2006 in Kaapstad met die ACDP, die DA en verskeie ander kleiner partye ʼn koalisie gevorm om die ANC uit die kussings te lig. Waar moontlik sal die VF Plus dit weer doen. Sonder die steun van die VF Plus kon mev Zille nie burgemeester geword het nie. In ruil hiervoor het die VF Plus die Speakerskap gekry. Die voordeel om lid van so ʼn koalisie te wees, was dat die VF plus as ʼn waghond ook oor die DA kon optree. Toe die DA eensydig net sekere straatname wou verander, kon ons dit veto. Die huidige beleid en wilde standpunte van die EFF maak ʼn koalisie met hulle ook onmoontlik.
In 2006 se plaaslike verkiesing was daar in minder as tien stadsrade koalisies. In 2011 was daar 36 sulke rade en na hierdie verkiesing gaan daar aansienlik meer wees. In van hierdie koalisies gaan die VF Plus die balans tussen partye hou en so sy waardes in die koalisie kan indra.
Vraag 3: Is daar enige faktore, binne of buite die VF Plus, wat sedert 2011 verander het wat ʼn invloed op vanjaar se munisipale verkiesing sal hê?
Baie opposisie-kiesers het in vorige verkiesings die DA propaganda geglo van ʼn kitsoplossing waarmee die ANC binne enkele verkiesings verslaan sal word. Na 22 jaar en nege nasionale en plaaslike verkiesings het die ANC in 2014 steeds 62% van die stemme gekry teenoor die DA se 22%.
Al meer kiesers besef dat een party soos die DA nie alleen die ANC gaan wen nie. Hulle stem nou vir die VF Plus wie se beleid en waardes nader aan hulle eie is. Sedert 1999 het die VF Plus by die stembus met 30% gegroei en met elke verkiesing sy stemtotaal vergroot. In tien munisipaliteite staan vorige DA raadslede nou as VF Plus kandidate. Meeste van hierdie kandidate was in wyke genomineer wat hulle sou wen, maar hulle sien nie meer kans vir die DA se standpunte ten gunste van regstellende aksie, grondhervorming en kwotas nie.
In die Tshwane/Pretoria metroraad en in plekke soos Potchefstroom is die VF Plus tans die derde sterkste party. Dit beteken dat die VF Plus na die verkiesing ʼn belangrike rol in opposisiekoalisies gaan speel om die ANC beheer te beëindig.
Vraag 4: Die laaste tyd het ʼn aantal bruinmense by die VF Plus aangesluit en staan op sekere plekke ook as kandidate. Waaraan kan dit toegeskryf word?
Die laaste paar jaar het steeds meer bruin en Khoi-groepe uit hulle eie met ons in gesprek getree oor ons standpunte rakende selfbeskikking- en minderheidsregte. Hulle voel al meer as groepe onderdruk en bedreig en wil na hulle eie belange omsien. Omdat hulle met die ANC en DA denkrigtings ontnugter is, het hulle die VF Plus se ondersteuning gevra.
In die soeke na politieke oplossings in Suid-Afrika is daar breedweg twee denkrigtings:
- Die ANC, DA en EFF uitgangspunt van een Suid-Afrikaanse nasie waar taal en kultuur en ander verskille geen rol speel nie. Gedeelde waardes word gesoek om as gemeenskaplike grond te dien waarop ʼn nuwe nasie gebou word. Polities beteken dit ʼn eenvoudige een mens een stem verkiesing waarna die meerderheid regeer. Minderhede moet by die meerderheid inval of tevrede wees met ʼn permanente ondergeskikte rol as opposisie.
- Die tweede denkrigting behels die erkenning van die verskeidenheid tale en kulture in Suid-Afrika en die doeltreffende bestuur daarvan om konflik te vermy en harmonie en samewerking te verseker. So ʼn erkenning beteken dat ek, behalwe vir sekere gemeenskaplikhede, my taal en kultuur kan uitleef en besluite oor my eie toekoms kan neem sonder inmenging van ander. Hierdie benadering geld vir elkeen wat dit so verkies. Daar is baie voorbeelde in die wêreld waar selfbeskikking en minderheidsregte gebruik word om demokratiese strukture te vorm wat hierdie tipe werklikheid grondwetlik akkommodeer.
Die Vryheidsfront Plus glo die tweede denkrigting is meer realisties om in die toekoms vrede en harmonie tussen die verskillende groepe in Suid-Afrika te verseker. Daarom lui ons missie soos volg:
“Die Vryheidsfront Plus is onherroeplik verbind tot die verwesenliking van gemeenskappe, in die besonder die Afrikaner, se internasionaal erkende reg op selfbeskikking, territoriaal en andersins, die handhawing, beskerming en uitbouing van hulle regte en belange asook tot die bevordering van die reg op selfbeskikking vir enige gemeenskappe in Suid-Afrika gebind deur ʼn gemeenskaplike taal – en kultuurerfenis.”
Die VF Plus is dus eerstens verbind tot die verwesenliking van die Afrikaner se selfbeskikking. Ons erken egter verder ook die reg van ander gemeenskappe en volke in Suid-Afrika op selfbeskikking en stel dit as doel om dit ook te bevorder. Slegs daarmee gaan ons eendag by ʼn meerderheid van minderhede uitkom wat hierdie land in die tweede denkrigting kan stuur.
Die bruin en Khoi-groepe vind aansluiting hierby as ʼn metode om na die belange van hulle afgeskeepte gemeenskappe om te sien en om so meer selfbeskikking en minderheidsregte vir hulleself te kan beding.
Vraag 5: Wat is die grootste onderskeid tussen die VF Plus se benadering tot munisipale regering en die van ander partye?
Alle partye stem saam dat ʼn gebrek aan dienslewering die grootste probleem op munisipale vlak is. Partye verskil egter oor hoe om dit te verbeter.
Die VF Plus sê dienslewering is so swak omdat mense in munisipaliteite aangestel word op grond van alles behalwe meriete. By meeste munisipaliteite het dit tot ʼn groot verlies aan kundigheid gelei.
Volgens die Ouditeur generaal se nuutste verslag is 42% van amptenare in die finansies departemente van munisipaliteite nie voldoende gekwalifiseer nie. Tot 43 000 poste is in waterbestuur vakant. Die rede is dat daar nie genoeg regstellende aksie persone met die nodige kwalifikasies beskikbaar is vir daardie poste nie. Nou word die poste nie gevul nie.
Dit verduidelik waarom 92% munisipaliteite tegnies bankrot is en net 19% munisipaliteite skoon oudits gekry het.
Die VF Plus is tans die enigste party met ’n standpunt dat dit tyd is om regstellende aksie af te skaf – 22 jaar na 1994. Dienslewering sal verbeter as bevoegde amptenare, ongeag kleur, aangestel word. Kiesers wat dit ondersteun, stem VF Plus.
Kiesers wat ten gunste van regstellende aksie en kwotas is, stem vir die ANC, DA en EFF wat glo dit moet steeds toegepas word.
Waar die VF Plus na die verkiesing die magsbalans hou as deel van ʼn koalisie, sal hierdie beleidsrigtings daar ingedra word.