Ds Theunis Botha is die leier van die Christen Demokratiese Party.
Waar stel die CDP oral kandidate verkiesbaar?
Ons het kandidate in die hele Tshwane-, Nelson Mandela- en Kaapstad Metro’s gestel. Behalwe die voorgenoemde staan ons ook in twee kleiner munisipaliteite, een in Noord Wes en die ander in KwaZulu-Natal.
Wat is die CDP se verwagting vir die komende verkiesing?
Om ten minste proporsionele raadslede in die drie metro’s in te kry. Ons verwag ook om goed in die ander twee munisipaliteite te doen.
In 2014 het die CDP besluit om nie aan die nasionale verkiesing deel te neem nie. Wat was die rede?
Die rede waarom ons nie in 2014 deelgeneem het nie is omdat dit finansieel onmoontlik vir ons sou wees, na die oormatige depositos betaal is, om ‘n geloofwaardige veldtog te loods. Finansies bly nog maar altyd ‘n probleem te wees. Derhalwe het ons voor die tyd bewus daarvan geword dat kleiner partye nou strop sou trek en wou ons nie ons lede se swaarverdiende geld mors nie.
Wat is julle benadering rakende koalisies?
Ons sal in ‘n koalisie met ander Christelike partye werk, mits hulle nie in ‘n koalisie met enige sekulêre humanistiese partye soos die ANC, DA en EFF betrokke is nie. ‘n Koalisie met bv die DA het nog altyd daartoe gelei dat die DA al die krediet neem terwyl hulle koalisievennote nie eers genoem word nie.
Wat is die grootste onderskeid tussen die CDP se benadering tot munisipale regering en die van ander partye?
Die CDP staan vir die devolusie van mag tot die laagste vlakke. Ons is nie ten gunste van groot onbestuurbare metros nie maar wel plaaslike regering in kleiner munisipaliteite of gemeenskapsgekontroleerde areas op die basis van kultuur, godsdiens en taal. In ander woorde ons wil verkose verteenwoordigers hê wat regstreeks verantwoordlik is aan hulle kiesers as wyks-, gemeenskaps- of proporsionele verteenwoordigers.