Na gister se oproerige optrede deur EFF-parlementslede is `n versoek by die parlement se reëlskomitee geopper dat die polisie LP’s tydens parlementsittings moet beskerm. Die EFF het hulleself teëgesit toe die sogenaamde wit hemde probeer het om hulle te verwyder. Vuiste het geswaai en waterbottels het deur die lug getrek. Doris Dlakude, adjunkhoofsweep van die ANC, het aangevoer dat die EFF lyfwagte in die openbare galery gehad het wat veiligheidswagte aangerand het. Sy het ook haar kommer uitgespreek oor die moontlikheid dat dié sogenaamde lyfwagte `n volgende keer wapens kan saambring. Die speaker, Baleka Mbete het egter daarop gewys dat in gevolge `n onlangse hofbeslissing mag die polisie nie die raadsaal binnekom en LP’s verwyder nie.