
Volgens peilings wat deur die navorsingsmaatskappy, IPSOS, onderneem is loop die DA voor in drie metro’s. Kiesers is gevra vir wie hulle in die komende munisipale verkiesing sal stem en die DA het in alle gevalle die ANC oortref. In die Tshwane Metroraad (Pretoria) blyk dit of die DA 39% van die steun geniet terwyl die ANC op 26% staan. Die derde sterkste party is die EFF met 11,9% van die steun.
In Johannesburg het 35,7% van die deelnemers aangedui dat hulle vir die DA sal stem terwyl 30,8% sê die ANC sal hulle stemme kry. Die EFF staan op 9,7%. Die groot fokus met die verkiesing val op Nelson Mandelabaai waar die DA 41,7% van die steun geniet. Die ANC staan op 21% en die EFF op 9,6%. `n Koalisieregering lyk dus na `n sterk moontlikheid in laasgenoemde metro.