In reaksie op die verkiesingsgeweld in Pretoria het die leier van die EFF, Julius Malema, `n verklaring uitgereik om te verduidelik wat `n munisipale regering onder die EFF sal beteken:
* Waar die EFF regeer sal daar geen name of simbole wees wat deel was van die apartheidsregering nie. Openbare ruimtes sal “gedekoloniseer word”.
* Die EFF wil hê wit mense moet in Suid-Afrika bly. Grondhervorming sonder vergoeding is egter een van die sewe pilare waarop die EFF se beleid geskoei is en dit is ononderhandelbaar – dit sal gebeur en die grond sal verdeel word.
* Elke huis moet lopende water, elektrisiteit en ’n spoeltoilet hê. Dit is basiese noodsaaklikhede. Die EFF verbind hom tot ’n kraan in elke huis.
* Korrupte raadslede en munisipaliteite gaan nie geduld word nie. Raadslede word op meriete aangestel, hulle moet woon in die gebied waar hulle ’n raadslid is, hulle moet hul selfoonnommer verskaf en die raadslid se foon sal “24 uur lank werk”. Mense moet na hul raadslede kan deurkom. Die EFF se raadslede mag nie dronk op straat wees nie en moet lief wees vir lees, want dit is nie ’n antwoord om te sê “ek weet nie”.
* Die EFF-munisipaliteite gaan varskosmarkte en vrugtestalletjies bou vir plaaslik verboude kos en noodsaaklikhede. 50% van basiese goedere, dienste en produkte wat deur die munisipaliteit gebruik word, moet in die betrokke munisipaliteite vervaardig, verwerk of aanmekaar gesit word.
* Daar mag ook niemand wees wat honger ly waar ’n EFF-raadslid is nie en die raadslede sal ook arm mense met hul begrafnisse help.
* Die EFF beplan om weg te doen met alle informele nedersettings. Dit sal vervang word deur menslike nedersettings. Die huise wat hulle gaan bou, is huise waarin die kamers verdeel is. Daar gaan ’n kombuis-area, ’n sitkamer en minstens twee slaapkamers wees. Malema het in sy toespraak gesê ouers moet hul eie kamers hê om in privaatheid “aan mekaar te kan vat”.
* In plaas daarvan dat tenders verkry word om dienste soos die skoonmaak van strate en vullisverwydering aan die munisipaliteit te lewer, sal die EFF mense aanstel om die werk te doen. Hulle sal behoorlike salarisse en ’n pensioenfonds ontvang.