Die Israelse ambassadeur aan Suid-Afrika, Arthur Lenk, het in `n mediaverklaring sy teleurstelling uitgespreek in die Suid-Afrikaanse regering, en meer spesifiek die ANC, se anti-Israel standpunte. Mnr Lenk het onder meer verwys na die DA-leier, Mmusi Mmaimane se besoek aan Israel en die kritiek wat dit vanuit ANC-geledere uitgelok het. President Jacob Zuma het selfs sover gegaan om Suid-Afrikaners af te raai om Israel te besoek.
Die ambassadeur het in sy reaksie ook gesê dat Israel herhaaldelik daarop gewys het dat hy bereid is om vreedsaam met ander lande saam te werk soos reeds bewys word met Israel se verhouding met Egipte en Jordanië.
Die ANC se woordvoerder, Zizi Kodwa, het vroeër aangevoer dat Israel onwettig grond wat aan die Palestyne behoort beset. Dié bewering word deur mnr Lenk betwis. Mnr Lenk het ook daarop gewys dat oud-president Nelson Mandela in 1999 besoek aan Israel afgelê het en met Israeli’s oor die hele politieke spektrum gesprek gevoer waarna hy aan sy gashere sou sê dat dit ondenkbaar is dat Israel grond in Arabiese gebiede moet opgee terwyl dié state weier om Israel se bestaansreg binne vasgestelde grense te erken. Volgens mnr Lenk is vandag se ANC nie reg om te praat, luister, te reis of interaksie te hê nie. “Wat `n verlies vir Suid-Afrika en die wêreld,” het hy die verklaring afgesluit.