As daar werklik ‘n ekonomiese verlies as gevolg van hernieubare kragopwekking is, is dit aan Eskom self toe te skryf, sê dr Wynand Boshoff, leier van die VF Plus in die Noord-Kaap. Volgens dr Boshoff beweer Eskom in ‘n onlangse verklaring dat hernieubare energie die Suid-Afrikaanse ekonomie in 2016 meer as R9 miljard gekos het. Volgens Eskom is die oorsake die hoë tariewe wat aan hernubare kragverskaffers betaal word, asook Eskom se nuwe steenkoolkragsentrales wat in produksie kom. Dr Boshoff voer aan dat die vroegste hernieubare kragvoorsieners inderdaad buitensporige tariewe verdien maar dat die voordeel is dat ekonomie van skaal bereik is, wat tot kosteverlaging vir opvolgende projekte gelei het.
“As persentasie van die totale kragverbruik van Suid-Afrika is die verlies regverdigbaar, indien bekostigbaarheid van hernubare krag inderdaad daardeur bewerkstellig is. Die werklike voordeel daarvan sal deursyfer namate die goedkoper, meer onlangse hernieubare projekte in produksie kom. Dit is dus onbillik om op hierdie stadium te impliseer dat hernieubare energie die land te duur te staan kom,” verduidelik Boshoff. Hy sê verder dat die sterkste oordeel teen Eskom egter sy volgehoue belegging in konvensionele kragopwekking is terwyl die koste van hernieubare energie ‘n langtermyn dalende tendens toon, in teenstelling met steenkool- en kernenergie.
“Verbruikers kan vandag reeds goedkoper sonkrag op hulle eie dakke opwek, as wat hulle dit van munisipaliteite kan koop. Europese lande het dié neiging raakgesien en vergoed verbruikers wat hulle eie elektriese opwekkings- en stoorkapasiteit skep. Eskom se reaksie verloor samehang wanneer hulle aan die een kant kla oor die hoë tariewe wat vir ‘n klein breukdeel van hernieubare energie betaal word, en aan die ander kant oor die verlaging van hul kredietgradering as gevolg van verhoogde produksiekoste van konvensionele kragopwekking. En steeds beplan hulle om daardie vermoë uit te brei,” sê Boshoff.
Foto: Dr Wynand Boshoff (vfplus.org.za)
