Athol Trollip is die DA se burgemeesterskandidaat in die Nelson Mandela Metro (Port Elizabeth)
Gedurende die afgelope nasionale verkiesing was daar `n duidelike toename in die DA se steun onder kiesers in die Nelson Mandelabaai Metro (Port Elizabeth). Waaraan kan dit toegeskryf word?
Die DA het uitsonderlike groei getoon in die Nelson Mandelabaai Metro. Hierdie verskil is moeilik om om te keer veral weens die ANC se swak regeringsrekord in Nelson Mandelabaai. Daar was kroniese politieke onstabiliteit met die streeksleierskap wat deur `n provinsiale taakspan oorgeneem is. Daar was verskeie sake waar blatante korrupsie voorgekom het in die voorsiening van huise (`n taak wat later deur die nasionale departement oorgeneem is) asook die nou berugte fiasko met die ITPS openbare busvervoer waar daar niks is om te wys nie na uitgawes van R2,5-miljard. Die DA het ook uitsonderlik goed presteer as opposisieparty en dit, tesame met ons regeringsrekord in die Wes-Kaap, kan maak dat ons die metro wen.
Wat is die eerste ding wat u sal verander as u burgemeester word?
Ek sal korrupsie stop, werk skep en dienslewering verbeter. Basies die DA se verkiesingsmanifes implementeer. Ek sal ons stad skoonmaak en ons begroting herprioritiseer sodat infrastruktuur onderhou en verbeter word om sodoende ons stad `n aantreklike beleggingsbestemming te maak. Ons toerisme benodig drastiese remediërende aandag aangesien dit die vinnigste roete na werkskepping is. Korrupsie moet egter uitgeroei wees voor dit kan gebeur.
In `n onlangse radioadvertensie maak die DA gebruik van oud-President Nelson Mandela se stem. Lede van die Mandelafamilie het krities hieroor gestaan. Voel u dat die DA wel die reg het om oud-President Mandela se stem te gebruik?
In alle post-bevrydingslande word die vader van daardie bevryding as `n nasionale held geag. Ons ag president Nelson Mandela in daardie lig en respekteer sy nalatenskap en voorbeeld as die van `n leier met morele integriteit (iets waaraan daar `n drastiese gebrek is in die huidige ANC-leierskap). Die ANC se houding soos gereflekteer in Mandla Mandela se kosbare inhuldiging is onaanvaarbaar vir die meeste Suid-Afrikaners. Ons sal voortgaan om president Mandela se nalatenskap te respekteer en daarna streef om sy droom vir Suid-Afrika te bewaarheid of die ANC daarvan hou of nie.
Die DA wil korrupsie in munisipaliteite uitroei. Hoe beplan julle om dit te doen?
Daar moet stappe gedoen word teen enige persoon ongeag watter posisie hulle bekleë. Dit sluit strafregtelike klagte in teen diegene wat deur forensiese verslae geimpliseer word. Dit word tans deur die ANC onder die mat ingevee.
Wat onderskeie die DA se benadering tot munisipale regering van ander partye?
Klein, doeltreffende en eerlike regering eerder as die groot, opgeblaasde regerings wat deur kaderontplooiing en aanstellings van amptenare wat nie oor die nodige kwalifikasies of ervaring beskik nie gekenmerk word.